Gevare Van Elektrisetiet

Elekrisiteit vloei van nature grond toe deur enigiets wat ’n elektriese stroom sal gelei. Daar is sekere stowwe, soos hout en glas, wat nie goeie geleiers van elektrisiteit is nie. Daarteenoor sal elektrisiteit geredelik ’n pad deur die menslike ligaam kies om by die grond te probeer uitkom.
As ’n apparaat of stuk gereedskap foutief is of daar byvoorbeeld ’n kortsluiting in ’n draad is, kan die elektriese stroom ’n ander pad na die aarde probeer vind—straks deur jou liggaam. Dit is hoekom elektriese stelsels altyd geaard moet wees…
’n Elektriese skok is in die reël die uitwerking op jou liggaam van ’n sterk elektriese stroom wat deur jou spiere of senuwees vloei. Die stroom kan weefselskade en selfs hartstilstand veroorsaak as dit sterk genoeg is, en ’n noodlottige elektriese skok staan bekend as elektrokusie.
Dit is belangrik om te weet dat ’n stroom deur droë klere minder gevaarlik is as dié deur nat klere of direk op die vel. Die badkamer is ook die gevaarlikste plek in die huis om ’n elektriese skok te kry. En alle strome is gevaarliker wanneer die liggaam geaard is as wanneer dit van die aarde geïsoleer is deur rubberskoene.
Een interessante eiendomlikheid van stroomspanning is dat ’n voël op ’n hoogspanningsdraad kan sit sonder om enigiets oor te kom, omdat altwee sy pote by dieselfde stroomspanning is. Daarteenoor soek ’n seun op die grond beslis sy dood as hy met ’n metaalpyp probeer om ’n vlieër los te wikkel wat daar bo tussen die drade vassit.
Trouens, volgens ’n kenner is dit selfs moontlik vir die liggaam om elektrisiteit te gelei sonder dat ’n mens aan ’n hoogspanningsdraad raak. Hoewel lug normaalweg ’n isoleermateriaal is, kan ’n vonk van ’n kragdraad na die liggaam of ’n ander voorwerp spring wanneer die gaping kleiner raak. So het dit al gebeur dat drie seuns in ons land op ’n hooimied doodgebrand het wat deur die springende elektrisiteit van kragdrade aan die brand gesteek is.
Elektriese brandwonde wat deur hoogspanningdrade veroorsaak word, lei in der waarheid tot baie sterftes weens weefselvernietiging, respiratoriese versaking, verlies van bewussyn, nierversaking en so meer. Die energie in ’n elektriese kragprop (220 volt) is reeds genoeg om ’n mens dood te maak. ’n Kragdraad op ’n plaas dra dikwels 11 000 volt.
Soos ’n navorser van Evkom dit al gestel het: “By die huis skok jy dood, maar met ’n hoogspanningskabel skok én brand jy dood. Die meeste mense sterf weens die brandwonde.”